1 Oor Moab. So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Wee oor Nebo, want dit is verwoes; Kirjat im staan beskaamd, dit is ingeneem; die rotsvesting is beskaamd en verskrik.

2 Uit is dit met die roem van Moab; in Hesbon het hulle onheil teen hom bedink en gesê: Kom laat ons hom uitroei, dat hy geen nasie meer is nie. Ook jy, Madmen, sal verwoes word, die swaard sal jou agtervolg.

3 Hoor! Geskreeu uit Horon im: verwoesting en 'n groot vernieling.

4 Moab is verbreek; sy kleintjies laat 'n geskreeu hoor.

5 Want die hoogte van Luhit gaan hulle op met geween by geween; want aan die hange van Horon im het hulle angsgeskreeu van verbreking gehoor.

6 Vlug, red julle lewe, en word soos 'n kaal bos in die woestyn!

7 Want omdat jy vertrou het op jou handelinge en op jou voorrade, sal jy ook ingeneem word; en Kamos sal uittrek in ballingskap, sy priesters en sy vorste almal saam.

8 En die verwoester sal kom oor elke stad, sodat geen stad sal vryraak nie; en die dal sal te gronde gaan, en die gelyk veld sal verwoes word, soos die HERE gesê het.

9 Gee vlerke aan Moab, want hy sal moet wegvlieg; en sy stede sal 'n woesteny word, sonder dat daar iemand in woon.

10 Vervloek is hy wat nalatig is om die werk van die HERE te doen; ja, vervloek is hy wat sy swaard van bloed terughou!

11 Moab was gerus van sy jeug af en het stil gelê op sy afsaksel, sonder dat hy leeggemaak is van vat in vat: hy het nie in ballingskap gegaan nie; daarom het sy smaak in hom gebly en sy geur nie verander nie.

12 Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek aftappers na hom sal stuur wat hom sal aftap en sy vate sal leegmaak en sy kruike stukkend slaan.

13 En Moab sal beskaamd staan deur Kamos, soos die huis van Israel beskaamd gestaan het deur Bet-el waar hulle op vertrou het.

14 Hoe kan julle sê: Ons is helde en manne bekwaam om te veg?

15 Moab is verwoes, en hulle het opgegaan in sy stede, en sy beste jongmanne het afgegaan om geslag te word, spreek die Koning wie se Naam is HERE van die leërskare.

16 Die ondergang van Moab is naby om te kom, en sy onheil is baie haastig.

17 Beklaag hom, almal wat rondom hom is en almal wat sy naam ken! Sê: Hoe is die sterk staf, die sierlike stok gebreek!

18 Kom af uit jou heerlikheid, en sit in die dorsland, o inwoner, dogter van Dibon! Want die verwoester van Moab het teen jou opgetrek, hy het jou forte verwoes.

19 Gaan staan op die pad, en kyk uit, o inwoner van Aroër! Vra vir hom wat vlug en vir haar wat ontkom; sê: Wat het gebeur?

20 Moab staan beskaamd, want hy is verslae. Huil en skreeu, verkondig dit by die Arnon dat Moab verwoes is!

21 Ja, 'n oordeel het gekom oor die land van die gelykte, oor Holon en oor Jahas en oor Mef ät,

22 en oor Dibon en oor Nebo en oor Bet-Diblat im,

23 en oor Kirjat im en oor Bet-Gamul en oor Bet-Meon,

24 en oor K,rijot en oor Bosra, ja, oor al die stede van die land Moab, die wat ver en die wat naby is.

25 Die horing van Moab is afgekap en sy arm is verbreek, spreek die HERE.

26 Maak hom dronk, omdat hy hom groot gehou het teen die HERE, sodat Moab neerslaan in sy uitbraaksel en hy self ook 'n belagging word.

27 Want was Israel vir jou nie 'n bespotting nie? Of is hy onder die diewe betrap, dat jy die hoof geskud het so dikwels as jy van hom gespreek het?

28 Verlaat die stede en gaan woon in die rots, inwoners van Moab! En word soos 'n duif wat sy nes maak oorkant die opening van die afgrond.

29 Ons het van die trotsheid van Moab gehoor -- hy is baie trots! -- van sy hoogheid en sy trotsheid en sy hoogmoed en die verheffing van sy hart.

30 Ek ken sy grimmigheid, spreek die HERE, en sy onbehoorlike grootpratery; onbehoorlik het hulle gehandel.

31 Daarom sal ek oor Moab huil, ja, oor die hele Moab dit uitskreeu; oor die manne van Kir-Heres sug hulle.

32 Bo die geween van Ja,ser sal ek jou beween, o wingerdstok van Sibma! Jou ranke het gegaan oor die see, tot by die see van Ja,ser het hulle gekom -- die verwoester het jou somervrugte en jou druiwe-oes oorval.

33 Daarom is vreugde en gejuig weggeneem uit die land van tuine en uit die land Moab, en Ek het die wyn uit die parskuipe laat verdwyn; hulle sal dit nie trap met vreugdegeroep nie; die vreugdegeroep sal geen vreugdegeroep wees nie.

34 Weens die geskreeu van Hesbon tot by Ele le, tot by Jahas het hulle hul stem verhef, van Soar af tot by Horon im, Eglat-Sel¡sia; want ook die waters van Nimrim sal 'n woesteny word.

35 En Ek sal in Moab 'n einde maak, spreek die HERE, aan hom wat op die hoogte offer en rook laat opgaan vir sy god.

36 Daarom klaag my hart oor Moab soos fluite, ja, my hart klaag oor die manne van Kir-Heres soos fluite; omdat die oorwins wat hulle verwerf het, verlore gegaan het.

37 Want al die hoofde is kaal en al die baarde is afgeskeer; op al die hande is snye en om die heupe is 'n roukleed.

38 Op al die dakke van Moab en op sy pleine is net rouklag, want Ek het Moab verbreek soos 'n ding waar 'n mens geen behae in het nie, spreek die HERE.

39 Hoe is hy verslae! Hulle huil. Hoe het Moab die rug gedraai met skaamte! So sal Moab dan vir almal wat rondom hom is, 'n belagging en 'n verskrikking word.

40 Want so sê die HERE: Kyk, hy sal vlieg soos 'n arend en sal sy vleuels oor Moab uitsprei.

41 Die stede is ingeneem, en die bergvestings is verower; en die hart van die helde van Moab sal in die dag wees soos die hart van 'n vrou wat in nood is.

42 En Moab sal verdelg word, dat hy geen volk meer is nie, omdat hy hom groot gehou het teen die HERE.

43 Die skrik en die kuil en die strik oor jou, o inwoner van Moab, spreek die HERE.

44 Hy wat vlug vir die vrees, sal val in die kuil; en hy wat uit die kuil klim, sal gevang word in die net; want Ek sal oor hom, oor Moab, bring die jaar van hulle besoeking, spreek die HERE.

45 In die beskutting van Hesbon staan vlugtelinge sonder krag; want 'n vuur het uitgegaan uit Hesbon en 'n vlam uit die huis van Sihon, en het die slape van die hoof van Moab en die skedel van die rumoermakers verteer.

46 Wee jou, Moab! Die volk van Kamos is verlore; want jou seuns is weggeneem as gevangenes en jou dogters in gevangenskap.

47 Maar aan die einde van die dae sal Ek die lot van Moab verander, spreek die HERE. Tot sover die oordeel van Moab.