Genesing van die man wat blind gebore was.
1 EN toe Hy verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af.
2 En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?
3 Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.
4 Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.
5 So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.
6 En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man
7 en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.
8 Die bure dan en die wat hom vroeër gesien het dat hy blind was, sê toe: Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie?
9 Ander sê: Dit is hy. Ander weer: Hy lyk na hom. Hy antwoord: Dit is ek.
10 Hulle sê vir hom: Hoe is jou oë geopen?
11 Hy antwoord en sê: Die man wat Jesus genoem word, het klei gemaak en op my oë gesmeer en vir my gesê: Gaan na die badwater Silóam en was jou. En ek het gegaan en my gewas en ek sien.
12 En hulle sê vir hom: Waar is Hy? Hy antwoord: Ek weet nie.