1 Daarna het Salomo die oudstes van Israel en al die stamhoofde, die familie-owerstes van die kinders van Israel, by koning Salomo in Jerusalem byeen laat kom om die verbondsark van die HERE uit die stad van Dawid, dit is Sion, op te bring.

2 En al die manne van Israel het by koning Salomo op die fees vergader in die maand Âtanim, dit is die sewende maand.

3 Toe al die oudstes van Israel daar kom, het die priesters die ark opgeneem

4 en die ark van die HERE en die tent van samekoms gebring saam met al die heilige voorwerpe wat in die tent was; naamlik die priesters en die Leviete het dit gebring.

5 En terwyl koning Salomo en die hele by hom vergaderde gemeente van Israel saam met hom voor die ark staan, het hulle kleinvee en beeste geoffer wat vanweë die menigte nie getel of bereken kon word nie.

6 Verder het die priesters die verbondsark van die HERE na sy plek gebring, in die binneste vertrek van die huis, in die Allerheiligste, onder die vlerke van die g,rubs in.

7 Want die g,rubs het die vlerke uitgesprei oor die plek van die ark, sodat die g,rubs die ark en sy draaghoute van bo af beskut het.

8 En die draaghoute was so lank, dat die punte van die draaghoute uit die Heilige, vlak voor die binneste vertrek, gesien kon word, maar verder buitentoe was hulle nie sigbaar nie; en hulle is daar tot vandag toe.

9 Daar was niks in die ark nie as net die twee kliptafels wat Moses by Horeb daarin neergelê het, toe die HERE 'n verbond met die kinders van Israel gesluit het by hulle uittog uit Egipteland.

10 En toe die priesters uit die heiligdom uitgaan, het die wolk die huis van die HERE vervul.

11 En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van die HERE vervul.