8 Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

9 Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

10 Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.

11 Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? --

12 julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.

13 Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.