1 En daar was 'n man siek, Lasarus van Bet nië, die dorp van Maria en haar suster Martha.

2 En dit was Maria wat die Here gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was.

3 Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: Here, hy vir wie U liefhet, is siek.

4 En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.

5 En Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad.

6 En toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy twee dae vertoef in die plek waar Hy was.

7 Eers daarna sê Hy aan die dissipels: Laat ons weer na Jud,a gaan.

8 Die dissipels sê vir Hom: Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe?

9 Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien.

10 Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie.

11 Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak.

12 Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word.

13 Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek.

14 En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.