35 En toe dit reeds laat geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate en dit is reeds laat.

36 Stuur hulle weg, sodat hulle na die buitewyke en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want hulle het niks om te eet nie.

37 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle aan hulle iets om te eet. En hulle sê vir Hom: Moet ons gaan en vir twee honderd pennings brood koop en aan hulle gee om te eet?

38 En Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? Gaan kyk. En toe hulle dit te wete gekom het, sê hulle: Vyf, en twee visse.

39 En Hy het hulle beveel om almal klompies-klompies op die groen gras te laat sit.

40 En hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig.

41 Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en Hy breek die brode en gee dit aan sy dissipels om dit aan hulle voor te sit. Ook die twee visse het Hy onder almal verdeel.

42 En almal het geëet en versadig geword;

43 en hulle het van die brokstukke twaalf mandjies vol opgetel, en van die visse.

44 En die wat van die brood geëet het, was omtrent vyf duisend manne.