1 Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.

2 En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.

3 En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.

4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.

5 En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.

6 En middernag was daar 'n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!

7 Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.

8 En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.

9 Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.

10 En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.

11 Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop!

12 Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.

13 Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.