31 En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit;

32 en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;

33 en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.

34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.

35 Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee;

36 Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.

37 Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?

38 En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?

39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?

40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.

41 Dan sal Hy ook vir die aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.

42 Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie.

43 Ek was 'n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie.

44 Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of 'n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie?

45 Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.

46 En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.