8 sê Naomi aan haar twee skoondogters: Gaan heen, draai om, elkeen na die huis van haar moeder; mag die HERE aan julle guns bewys soos julle aan die dode en aan my bewys het.

9 Mag die HERE gee dat julle 'n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man; en sy het hulle gesoen. Maar hulle het hul stem verhef en geween

10 en aan haar gesê: Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk.

11 Maar Naomi sê: Draai om, my dogters! Waarom sou julle met my saamgaan? Het ek nog seuns in my liggaam, dat hulle julle mans kan word?

12 Draai om, my dogters, gaan heen; want ek is te oud om 'n man te hê. Al sou ek sê: Ek het hoop! en nog vannag aan 'n man mag behoort en ook seuns baar --

13 sou julle in die geval kan wag totdat hulle groot geword het? Sou julle in die geval julleself opsluit om nie aan 'n man te behoort nie? Ag nee, my dogters, want dit is vir my baie bitterder as vir julle dat die hand van die HERE teen my uitgestrek is.

14 Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang.