1 Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel,

2 om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan,

3 om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid;

4 om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg;

5 laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry,

6 om 'n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels.