1 o HERE, waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid?

2 In sy trotsheid vervolg die goddelose die ellendige. Laat hulle gegryp word in die listige planne wat hulle uitgedink het!

3 Want die goddelose juig oor die begeerte van sy siel; en hy seën hom wat onregverdige wins maak, hy verag die HERE.

4 Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie -- dit is al sy gedagtes!

5 Sy weë is altyd voorspoedig; hoog daarbo is u gerigte, weg van hom af; al sy teëstanders -- hy blaas op hulle.

6 Hy sê in sy hart: Ek sal nie wankel nie; van geslag tot geslag is ek die een wat nie in die ongeluk sal wees nie.

7 Sy mond is vol van vloek en van bedrog en verdrukking; onder sy tong is moeite en onreg.

8 Hy sit in die hinderlae by die dorpe; in skuilplekke maak hy die onskuldige dood; sy oë loer op die ongelukkige.

9 Hy loer in die skuilhoek soos 'n leeu in sy lêplek; hy loer om die ellendige te vang; hy vang die ellendige deur sy net toe te trek;

10 en verbryseld sink die terneer, en die ongelukkiges val in sy mag.

11 Hy sê in sy hart: God vergeet dit; Hy verberg sy aangesig; vir ewig sien Hy dit nie.

12 Staan op, HERE! o God, hef u hand op; vergeet die ellendiges nie!

13 Die goddelose, waarom verag hy God en sê in sy hart: U soek dit nie?

14 U het dit gesien; want U aanskou die moeite en verdriet, sodat 'n mens dit in u hand sal gee. Aan U gee die ongelukkige dit oor; U was 'n helper van die wees.

15 Verbreek die arm van die goddelose en slegte; besoek sy goddeloosheid totdat U niks vind nie!

16 Die HERE is Koning vir ewig en altyd; die heidene het vergaan uit sy land.

17 HERE, U het die begeerte van die ootmoediges gehoor; U sal hulle hart versterk, u oor sal luister

18 om aan die wees en verdrukte reg te doen. Geen mens uit die aarde sal langer voortgaan om skrik aan te jaag nie.