Publicidade

Salmos 148

Alle kreature moet die Here loof.

1 HALLELUJA! Loof die Here uit die hemele; loof Hom in die hoogtes!

2 Loof Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare!

3 Loof Hom, son en maan, loof Hom, alle ligtende sterre!

4 Loof Hom, hoogste hemele en waters wat bo die hemele is!

5 Laat hulle die Naam van die Here loof; want Hý het bevel gegee — en hulle is geskape.

6 En Hy het hulle in stand gehou vir altyd, vir ewig; Hy het 'n wet gegee wat geeneen oortree nie.

7 Loof die Here van die aarde af — groot seediere en alle dieptes!

8 Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring;

9 berge en alle heuwels, vrugtebome en alle sederbome,

10 wilde diere en alle vee, kruipende diere en gevleuelde voëls;

11 konings van die aarde en alle volke, vorste en alle regters van die aarde;

12 jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges —

13 laat hulle die Naam van die Here loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel!

14 En Hy het 'n horing vir sy volk verhef: 'n roem vir al sy gunsgenote; vir die kinders van Israel, die volk wat naby Hom is. Halleluja!

Veja também

Publicidade
Bíblia Online Bíblia Online

Bíblia Online • Versão: 2026-06-16_06-50-08-