Publicidade

Salmos 57

My hart is gerus!

1 VIR die musiekleier; op die wysie van: „Moenie verwoes nie." Van Dawid. 'n Gedig, toe hy vir Saul in die spelonk gevlug het.

2 Wees my genadig, o God, wees my genadig, want by U het my siel geskuil, en in die skaduwee van u vleuels sal ek skuil totdat die onheil verbygegaan het.

3 Ek roep God, die Allerhoogste, aan, God wat dit vir my voleindig.

4 Hy sal uit die hemel stuur en my verlos terwyl hy wat my vertrap, my smaadheid aandoen. Sela. God sal sy goedertierenheid en sy trou stuur.

5 Ék moet onder leeus lê, wraakgieriges, mensekinders wie se tande spiese en pyle is, en wie se tong 'n skerp swaard is.

6 Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid bo die hele aarde!

7 Hulle het 'n net gespan vir my voetstappe, hulle het my siel neergebuig; hulle het 'n kuil voor my gegrawe, hulle val daar binne-in. Sela.

8 My hart is gerus, o God, my hart is gerus; ek wil sing en psalmsing.

9 Waak op, my eer! Waak op, harp en siter! Ek wil die dageraad wakker maak!

10 Ek wil U loof onder die volke, o Here, psalmsing tot u eer onder die nasies.

11 Want u goedertierenheid is groot tot by die hemele en u trou tot by die wolke.

12 Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid bo die hele aarde!

Veja também

Publicidade
Bíblia Online Bíblia Online

Bíblia Online • Versão: 2026-06-16_18-40-07-