Publicidade

Salmos 75

Die Wêreldregter met die toornbeker.

1 VIR die musiekleier; op die wysie van: „Moenie verwoes nie." 'n Psalm van Asaf. 'n Lied.

2 Ons loof U, o God, ons loof, en naby is u Naam; hulle vertel u wonders.

3 As Ek die regte tydstip aangryp, oordeel Ék regverdig.

4 Al wankel die aarde en al sy bewoners — Ék het sy pilare vasgestel. Sela.

5 Ek sê tot die onsinniges: Wees nie onsinnig nie! en tot die goddelose: Verhef die horing nie!

6 Verhef julle horing nie daarbo en spreek nie met trots uitgerekte nek nie.

7 Want nie van die opgang of van die ondergang, ook nie van die woestyn van berghoogtes nie ...

8 maar God is regter: Hy verneder die een en verhef die ander.

9 Want in die hand van die Here is 'n beker, en die wyn skuim; dit is oorvloedig gemeng, en Hy skink daaruit; ja, die afsaksel daarvan moet al die goddelose van die aarde opslurp, uitdrink.

10 Maar ék sal vir ewig verkondig — ek wil psalmsing tot eer van die God van Jakob.

11 En ek sal al die horings van die goddelose mense stukkend breek; die horings van die regverdige sal verhef word.

Veja também

Publicidade
Bíblia Online Bíblia Online

Bíblia Online • Versão: 2026-06-16_06-50-08-